Aan die Suidpunt van Afrika word daar op 17-20 Mei 2012 ‘n Hartklop Christusfees in Bredasdorp gehou waar die enigste Ware God in Eenheid aanbid word. Die Hartklop Christusfees is interdenominaal en word gratis aangebied op die Bredasdorp Sportgronde terrein. Dit is tyd vir gelowiges om die voortou te neem in die versoeningsproses en eenheid aktief na te streef.
Voorheen was die HARTKLOP CHRISTUSFEES hoofsaaklik aangebied vir Bredasdorp en nabygelee dorpe maar in 2012 is dit 'n Overberg-streekfees!
Op Donderdagoggend, 17 Mei, skop die Christusfees af met 'n gesamentlike Hemelvaartdiens, waar al die denominasies betrek word. Tydens hierdie diens word die HARTKLOP CHRISTUSFEES-vlam aan die brand gesteek, wat regdeur die naweek sal brand. Hierdie vlam is nie net 'n simbool van EENHEID en HERLEWING vir ons streek nie, maar vir ons hele land.
Elke jaar sluit die program 'n damesoggend, manne-ontbyt in asook en 'n Amos-aand, wat spesifiek uitreik na die landbougemeenskap.
'n Skole-program word by omliggende skole aangebied en daar sal ook uitreikspanne na plaaslike en ander skole in die Overberg gestuur word. Vrydagaand, 18 Mei, is dit die jeug se aand en hierdie jaar word daar 'n "Kidz Praize Festival" gehou in samewerking met Cor Uys (beter bekend as "Oom Karoolus & Lente"). Verskeie Laerskole in die Overberg sal 'n paar weke voor die Christusfees bladmusiek & "backtracks" van vier-lofprys liedjies ontvang, wat hulle moet oefen en dan tydens hierdie "Kidz Praise Festival" saam met Oom Karoolus & Lente op die verhoog sing.
Saterdag-oggend, 19 Mei, word daar 'n Christusfees Parade gehou, waar verskillende skole en instansies in ons dorp en die Overberg uitgenooi word om met vlotte of baniere die Hartklop Christusfees-tema "Aan Jesus al die Eer" uit te beeld, m.a.w. elke instansie of skool gaan met 'n vlot wat hulle gebou het, deur die hoofstraat van Bredasdorp beweeg. Hierdie vlot kan lewendig wees (individue op vlot) of dit kan karakters / poppe wees wat die tema uitbeeld.
Saterdagmiddag en -aand word die groot "Lofprys Skouspel" aangebied. Cor Uys tree weer op as aanbieder en koordineerder. Van die vorige jare se kunstenaars was Retief Burger, Bobby van Jaarsveld, Riana Nel, Joe Niemand, Karin Kortje, Bella, Freda Francis, Julius Magan, Onbeskaamd, Wholehearted, Back 2 Basics, Lizette Janse van Rensburg, Willie Joubert en nog baie ander. (Die program is nog nie gefinaliseer nie.) Jy het 'n Koninklike uitnodiging! - Kom geniet, luister en aanbid! 'n Massa-erediens word op Sondag, 21 Mei deur Johan Els gelei - al die denominasies bring tydens hierdie erediens aan Jesus al die eer! Soos elke jaar, sal daar ook weer 'n kinderdiens vir die kleinspan wees."